Dienslewering word op die altaar van ‘billikheid’ geoffer

By Ivor Chipkin 04 Desember 2020

Kimi Makwetu se laaste verslag as ouditeur-generaal voordat hy oorlede is, het ’n paar munisipaliteite geïdentifiseer wie se sake ‘’n goeie storie van gedissiplineerde besteding vertel, wat waarde vir geld behaal’. Maar hierdie gevalle word oorskadu deur ’n algemene verhaal van agteruitgang wat toon dat die plaaslike regering ná apartheid misluk het, skryf IVOR CHIPKIN.

EK het op 25 en 26 November aan ’n konferensie met die tema 25 Years of Local Government deelgeneem. Hoewel die onderwerp ietwat droog klink, was dit glad nie. Die geleentheid is georganiseer deur die dinktenk wat ek bedryf, Government and Public Policy (Gapp), en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga). Dit het baie van die mense byeengebring wat 25 jaar gelede die huidige model van plaaslike regering help ontwerp het. (Die konferensievideo’s kan hier besigtig word.)

Die “stelselargitekte” het oor twee dae saamgekom om die stelsel te bespreek wat hulle ontwerp het en te besin oor hoe dit oor twee en ’n half dekades gevaar het. Dit is wat die geleentheid so spesiaal gemaak het.

Op een vlak was dit ’n mea culpa en op ’n ander ’n viering. En daarin lê ’n onverbiddelike spanning. Het ons prestasies oor 25 jaar vereer of ’n katastrofe betreur? Plaaslike regerings word in die algemeen as skouspelagtige mislukkings bestempel. Hulle word gewoonlik as plekke van lafhartige korrupsie, onbevoegdheid en onbekwaamheid beskou.

Johannesburg se paaie verkrummel

Munisipaliteite het nie daarin geslaag om basiese dienste te lewer of selfs die mees basiese infrastruktuur te onderhou nie. Op een konferensiedag het ’n kommentator Johannesburg in ’n Business Day-artikel beskryf as ’n stad wat terminaal agteruitgaan: “Daar’s omtrent nie ’n pad in Johannesburg wat nie verkrummel, vol slaggate of met onkruid toegegroei is nie.”

Die ouditeur-generaal se onlangse verslag oor munisipaliteite gee te kenne dat hierdie opmerkings nie net praatjies oor die stad of munisipaliteite in die algemeen is nie. Kimi Makwetu se laaste verslag voordat hy oorlede is, het ’n paar munisipaliteite geïdentifiseer wie se sake “’n goeie storie van gedissiplineerde besteding vertel, wat waarde vir geld behaal”. Die meeste van hulle is in die Wes-Kaap.

Maar hierdie gevalle word deur ’n algemene verhaal van agteruitgang oorskadu.

Teen dié agtergrond lyk dit taamlik voor die hand liggend dat die model van plaaslike regering ná apartheid misluk het. Die huidige stelsel is te generies en kom op imposante muur-tot-muur-munisipaliteite landwyd neer, almal presiese replikas van mekaar.

Grondwet

Sommige het geredeneer dat groot stede glad nie soos plaaslike regerings gehanteer moet word nie, en dat hulle eerder onafhanklike status in nasionale politieke forums moet ontvang. Dit was per slot van rekening belaglik om die behoeftes van die groot stede, ook die ekonomiese enjins van die land, by dié van ander munisipaliteite in te sluit, of meer ernstig, dit deur provinsiale regerings te laat oorskadu.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal formeel ’n interregeringstelsel wat uit ’n sterk nasionale regering, swak provinsiale regerings en sterk munisipaliteite bestaan – jy kan dit as ’n Sterk-Swak-Sterk- of S-W-S-model beskryf. Dit was die model wat die ANC in grondwetlike onderhandelinge teen federaliste in ander partye gewen het.

Ironies, soos Philip van Ryneveld uitgewys het, is die uitwerking van hierdie formele ooreenkoms ongedaan gemaak deur die provinsialisering van mag in die ANC self. Die mag van provinsiale en streeksbaronne op ANC-konferensies is tot de facto-gesag van hierdie regeringsfeer verhoog, veral teen munisipaliteite en metro’s wat geen spesiale status in die ANC se interne prosedures het nie.

Suid-Afrika het in praktyk dus ’n S-S-W-regeringsmodel. Dit het teen ’n hoë prys vir die outonomie van munisipaliteite gekom, wat gereeld by die onderlinge faksionalisme betrek word wat die ANC-politiek sedert 2007 kenmerk.

Toe Yunus Carrim, voormalige adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, dus die Witskrif oor Plaaslike Regering in 1995 “uitstekend” genoem het en gesê het “ek vind dit moeilik om te glo dat ons die verkeerde koers met ons model ingeslaan het”, was mense skepties.

Michael Sachs het daarop aangedring dat hierdie model die huidige krisis veroorsaak het. Maar Carrim en ander wat die model verdedig het, het prakties gesê die beleidmakers in die vroeë 1990’s kon nie geblameer word nie omdat hulle nie kon voorsien hoe die ANC sou ontwikkel nie.

Swak kaliber van mense

As ’n model was die klem op plaaslike outonomie, selffinansiering en deelnemende demokrasie die regte een. Die model is verraai deur die swak kaliber van mense wat gestuur is om die strukture te hanteer. Dit gee te kenne dat die huidige model gered kan word as Suid-Afrika kan belê in beter maniere van werwing, ontplooiing en verkiesing van munisipale amptenare en/of raadslede.

As dit net so eenvoudig was. Sachs het die oppervlakkigheid van die 1994-generasie gekritiseer.

Die groot waarde van ’n historiese beskouing van gebeure is egter dat dit nie bloot ’n blik vanuit die hede op die verlede is nie. Dit is ’n blik vanuit die hede in verhouding tot die verlede. En dit is die verskil tussen monitering en evaluering en geskiedenis. Eersgenoemde veronderstel ’n basiese kontinuïteit tussen die voornemens van die verlede en dié van die hede; laasgenoemde benadering nié. En in die ruimte wat deur ’n historiese siening geopen is, raak ’n ander beoordeling van die model van plaaslike regering moontlik.

Die model vir plaaslike regering is fundamenteel ontwerp om ’n geskiedenis van apartheidsgerigte rassisme, segregasie, verdeling, ongelykheid en onbillikheid in die verteenwoordiging van burgers, die toewysing van bronne en die organisering van ruimte te oorkom. Modelle van stedelike regering (eenvormige stede, metro’s met substrukture), een- of tweevlakkige plaaslike regerings en distriksmodelle is ontwerp met hoofsaaklik hierdie uitgangspunt in gedagte. In hierdie opsig was hulle dikwels suksesvol.

En tog het hierdie ontwerpe nie genoeg aandag geskenk aan die funksionele rolle wat munisipaliteite moet speel om dienste te verskaf en selfs ekonomiese groei aan te wakker nie. Plaaslike regerings is nie goed ontwerp om hul tegniese rolle te vervul nie. Hulle smelt veral hul administratiewe en politieke rolle saam. As die outonomie van amptenare en politici in nasionale en provinsiale regerings in die bres gerespekteer word, bestaan die onderskeid byna glad nie in munisipaliteite nie.

Vanuit hierdie perspektief kan Carrim en Sachs albei reg wees. Ons is in die middel, dit wil sê dis minder van ’n weerspreking as ’n paradoks. Die model was tot dusver suksesvol om billikheid te bevorder. Maar dit is in ’n krisis wat dienslewering betref.

Tweeledige elemente

Een van die simptome van die slapte in Suid-Afrika is te sien in die land se openbare kultuur. Daar is ’n geneigdheid tot vereenvoudiging, asof die groot kompleksiteit van ons samelewing en geskiedenis in eenvoudige, tweeledige elemente opgesom kan word: goed/sleg; korrup of omkoopbaar/nie korrup of omkoopbaar nie; sukses/mislukking. Behoorlike beleidskepping is deur slagspreukpolitiek vervang, hetsy van politieke partye, die burgerlike samelewing of die media.

Nes die ekonomiese krisis, is dit ook ’n teken van die intellektuele krisis in Suid-Afrika. Die 25 Years of Local Government-geleentheid het vir ’n wyle verligting verteenwoordig vir hierdie radeloosheid en ’n vlugtige blik gegee op die openbare kultuur wat Suid-Afrika nodig het.

* Ivor Chipkin is direkteur van die dinktenk Government and Public Policy (Gapp).

This article was published in vryeweekblad here

Leave a Reply